Jesaja 43: 14-21
Wat beteken die nuwe jaar wat aan die kom is vir jou? Vir sommige mense bring dit ongemak, want om nie te weet wat voorlê nie, kan bedreigend voel. Vir mense wat lewe met bekommernis oor hul finansies en gesondheid, bring dit vrees. Die vraag oor wat nog volgende gaan gebeur, maak hulle benoud.
Vir ander van ons is die aanbreek van die nuwe jaar goed en positief. ’n Nuwe jaar hou nuwe moontlikhede in. Die oue is verby, die nuwe breek aan. Dit is woorde wat bekend is vir ons. In die Bybel lees ons van die nuwe lewe, denke wat vernuwe word. In geloof ontvang ons die nuwe lewe wat deur Christus vir ons moontlik gemaak is. Ons los die ou mens agter ons en lewe soos nuwe mense.
Jesaja praat ook oor nuwe lewe, nuwe moontlikhede wat aanbreek en die oue wat agtergelaat moet word. Hierdie gedeelte in Jesaja is deel van die tyd in die volk van God se lewe waar hulle hulself in ballingskap bevind. Jesaja 40-55 vertel van die volk in ballingskap. Hul gemoedstoestand is dié van moedelose mense wat vaskyk in die verlede en nie meer ’n toekoms sien nie.
Ons het hierdie selfde geneigdheid. Ons laat toe dat die seer en swaar van gister die realiteit van ’n môre se nuwe begin en lewe van ons weerhou. Ons neem nie altyd uit die verlede wat goed was vir ons en bou daarop die toekoms nie. Ons sleep dikwels eerder die swaar van die verlede soos ’n bal en ketting met ons saam. Dit maak dat ons dikwels nie ons nuwe toekoms, dit wat God vir ons moontlik maak, raaksien nie.
Die raad en opdrag aan ons vir hierdie nuwe jaar is, laat los die verlede, die dinge wat verby is, wat nie verander kan word nie, en sien die nuwe lewe, die nuwe geleenthede wat God bring, en koester dit. Laat dit leef, laat dit groei. Wees gereed vir die nuwe wat God in jou lewe wil laat gebeur. Leef in vertroue uit God se hand.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten