Genesis 16
Onthou jy hoe het ons, voor digitale kameras, foto’s ontwikkel? Vanaf die negatiewe is die mooiste foto’s ontwikkel. So het ons die goeie lewensoomblikke vasgevang. Wat belangrik is by foto’s, is om te fokus. Vandag se gedeelte fokus op Hagar.
Daar is baie negatiewe dinge wat ons opmerk. Sy het weggeloop en bevind haar vrou-alleen in die woestyn. Sy is platgeslaan en sonder hoop vir die toekoms. Miskien nie ’n goeie foto nie. Met haar ontmoeting met die engel verander haar lewe. Die engel stuur haar terug na Sarai toe, maar maak ook die aankondiging dat sy ’n groot nageslag sal hê en ’n toekoms. Uit hierdie negatiewe omstandighede kom iets positief. Daar kom sekerheid en hoop en ons hoor dit by monde van Hagar in vers 13: U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.
God het haar die heeltyd raakgesien en wanneer sy God raaksien, verskuif haar fokus (kamera) van die negatiewe omstandighede na God toe. Sy sien God raak en dit bring goeie lewensoomblikke.
As die kamera vandag op jou fokus? Ons lewe kan dalk op ’n punt wees waar ons reg fokus. Ons besef opnuut God se genade in Christus se koms. Ons besef opnuut dat uit die negatiewe – die sonde – Christus die positiewe – die verlossing – bring. Of dalk is ons lewe by dieselfde punt as Hagar s’n. Ons is soekend. Omring deur al die negatiewe ervarings. Boelies by die skool, werk wat ek verloor, bekommernis oor ouers of kinders. So kan ons nog met die lys aangaan.
Kyk dan in die kamera van Genesis 16. God, die Almagtige, sien jou raak. Hy sien jou swaarkry en jou worsteling. Hy wil ook uit die negatiewe die positiewe skep. God gee hoop en ’n toekoms. Kom ons leer om God ook raak te sien. Kom ons fokus nie op die slegte omstandighede nie, maar op God!
Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos
