Lukas 1: 26-33 en 2: 1-14; Matteus 2: 1b-12

Kersfees is nie net ’n storie nie. Kersfees vertel jou van God se werklikheid. Kersfees bepaal jou manier van dink en doen. Dit bring jou in beweging, laat jou krities terugkyk en met hoop vorentoe beur, jou droom tegemoet, asof dit klaar ’n hele nuwe werklikheid geword het.

Hierdie verhaal van die swanger maagd wat in ’n stal geboorte gee aan ’n Seun en toe oorval is deur die vreemdste mense – herders wat kom vertel het dat daar ’n skare engele is wat buite in die veld verskyn het en astroloë wat bewerings maak oor ’n eienaardige ster – raak die afgelope tweeduisend jaar al die lewe van mense wat dit hoor. Dit verander die manier waarop hulle oor die lewe dink en dit bepaal hul gedrag. Dit verander die persoonlike lewens van dissipels wat agter die jong Jesus begin aanloop. Later verander dit ’n hele gemeenskap wat spontaan tot stand gekom het: die kerk. Later verander die Kersverhaal elke terrein van die samelewing waar mense wat aangegryp is daardeur dit waag.

Ons visie het nie net vaagweg met God te doen nie, want dit gaan nie oor wat ons sien nie, maar Wie ons sien. Ons het ’n visio Dei, ons sien God self. Jesus Christus is God! Die God wat ewig leef. Kersfees maak Hom aan ons sigbaar. So vreemd soos ’n sprokie. So waar soos die werklikheid. Ons visie het met God te doen. Met wie Hy is en met wie Hy wil hê ons moet word. 

Kersfees openbaar die wese van ons God. Dit is hierdie visie op God wat deur die eeue heen die kerk se krag was. Dit is Hy wat nou nog die beweegrede is vir ons droom oor ’n nuwe koninkryk, oor ’n ander lewe. Kersfees sê iets van dit wat God vir die lewe van die eerste gemeente beteken het en oor dit wat Jesus nou nog beteken vir die lewe van die kerk. Kersfees se stories vertel die verhaal van mense se visioene van God wat in Jesus Christus mens geword het. Daar’s Iemand, Iemand in Kersfees…

Gesang 354

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link