Johannes 6: 22-59

In hierdie Ek is-uitspraak sê ons Here Jesus: Ek is die brood wat lewe gee (vers 35).

Jesus het ’n skare mense gevoed met die vermeerdering van die vyf garsbrode en twee visse. Toe Jesus die brood geneem, dit gebreek en uitgedeel het, was daar oorvloedig genoeg vir die mense wat Hom gevolg het. Al die mense het geëet en genoeg gekry, en daar het nog 12 mandjies vol oorgebly nadat hulle klaar geëet het.

Die dissipels en die skare moes egter ook verder kyk as die brood wat hulle ontvang en geëet het. In geloof moes hulle vir Jesus raaksien as die Brood wat lewe gee. Hy was nie maar net ’n wonderdoener nie. Hy gee nie maar net brood wat maak dat ’n mens op aarde kan oorleef nie. In hierdie gedeelte van Johannes 6 sê Jesus dat Hy die brood van die lewe is, en Hy verduidelik presies wat dit beteken. Jesus sê dat Hy self sy lewe gee sodat hulle die lewe kan kry. Hy sou Homself later aan die kruis as die Brood gee wat ons vir die ewige lewe voed.

In Jesus Christus het God alles gegee wat ons nodig het om van te lewe. Nie net vir ons bestaan hier op aarde nie, maar ook vir ons lewe tot in alle ewigheid. Mense moet die Here nie soek, of agter Hom aanloop, of Hom koning wil maak sommer maar net vir die brood vir die aardse lewe nie. Hierdie oproep van die Here Jesus moet ons baie diep laat nadink. Die Here Jesus sê dat Hy self sy lewe gee sodat ons, wat in Hom glo, die lewe kan kry. Hy sterf aan die kruis om daardeur die ewige lewe te verkry waaraan uitverkorenes deel het. Jesus is die Brood van die lewe wat die Vader gegee het: Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef. Ons moet Hom soek vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

Share via
Copy link
Powered by Social Snap