Habakuk 2: 1-4; Romeine 1: 16-17 (Die Bybel 2020)

’n Mens kan die Bybel ’n honderd maal deurlees en dit kan geen verskil maak nie. Of jy kan een versie in die Bybel raaklees, en dit kan jou lewe vir altyd verander. Want die Bybel is ’n instrument waardeur God se Gees met ons praat. Belangrike boodskappe van God kom soms op heel eenvoudige maniere na ons toe. Een só ’n vers is Romeine 1: 17. Dit bevat die kern van ons geloof. Dit klink so eenvoudig. Dit klink amper te goed om waar te wees. Daarom gebruik die skrywer ’n aanhaling uit die Ou Testament om die waarheid van dit wat hy skryf, te bevestig.

Die skrywer haal hier ’n vers aan uit een van Habakuk se preke. Die profeet Habakuk was ’n minder belangrike, onbekende dominee wat ongeveer 600 jaar voor Christus geleef het. Destyds het hy reeds hierdie baie belangrike boodskap van God neergeskryf op borde wat van klei gemaak is, en hy het dit neergesit waar mense dit sommer kan lees as hulle daar verbystap.

In die jare en eeue na Habakuk sou die mense allerlei reëls en voorskrifte belangriker ag as die goeie nuus wat Habakuk gebring het. Daarom moes God ingryp en self ’n mens word en aarde toe kom om dit te kom regstel. Jesus Christus het die mense van sy tyd herinner aan hierdie selfde eenvoudige boodskap: Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook (Joh 11: 25).

Vandag nog is hierdie wonderlike evangelie in die vorm van die Bybel vir ons in skriftelike en baie ander formate beskikbaar. Ons kan spreekwoordelik sê dat God dit gewaag het om die hand op papier te sit. Dit staan vir ons in swart op wit. Mag u self ook hierdie versekering persoonlik ervaar.

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link