2 Timoteus 1: 8-14
Al die studente van ons Kerk is gedurende hul studenteloopbaan lede van die Van der Hoff-Gilde. Hierdie gilde is ’n geleentheid om met al die ander jaargroepe tyd deur te bring. Dit was vir my ’n kosbare belewenis. Daar is egter een ding wat ek nooit van my tyd by Van der Hoff sal vergeet nie. Die leuse van die Gilde het vir my altyd uitgestaan. Die leuse is: Bewaar wat aan jou toevertrou is.
Tot vandag toe nog eggo daardie woorde in my gedagtes en lewe. Elke dag is dit iets wat by my opkom. Dit roep my altyd op om te bewaar wat die Here vir my gegee het. Nie net in my beroep nie, maar in alle fasette van die lewe. Ek wonder soms of ons nie te gemaklik raak met die dinge in ons lewens nie. Ons gemak is egter die gevaarlikste plek vir ons om te wees. Ek besef vandag dat die boodskap wat ons verkondig, die lewe wat ons lei en die keuses wat ons maak, nie populêr of gemaklik is nie. Dit kos geweldig baie. Dit stuur ’n mens soms op ’n pad wat jy nie vir jouself sou kies nie.
Maar ons moet te alle tye onthou dat ons hierdie lewe kies omdat God aan ons sy verlossing openbaar het. Omdat ons ten diepste vertrou op die beloftes van God. Ons doen hierdie dinge nie omdat dit maklik, gemaklik of eenvoudig is nie. Ons kies die pad van die Here nie omdat almal dit loop en omdat dit wydbekend is nie, maar juis omdat die pad nou is en min mense dit loop. Ons word dus gevra om deur die Heilige Gees te bewaar wat aan ons toevertrou is. Dit is die Gees van die Here wat ons lei, en ons behoort deur hierdie Gees alles wat God aan ons gee te bewaar, nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit die moeite werd is.
Ds Juan de Beer, Parys
