Efesiërs 2: 11-22
Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Ef 2: 19).
Dit is tog almal se begeerte om deel te voel van ’n familie. Om mense te hê wat jou ondersteun, jou liefhet en ook na jou belange omsien. ’n Plek waar jy voel, hier is ek tuis. Dié is “my mense”.
’n Loseerder, aan die ander kant, het geen verbintenis nie. Dit is iemand wat tydelik ’n woonplek het. Sy enigste verpligting is om sy huur betyds te betaal en die huisreëls na te kom.
Nou kom Paulus en hy skryf vir die klein gemeentes daar in Asië. Hy maak nie onderskeid nie, hy is op die man af en skryf Jood en nie-Jood, almal, is een in Christus Jesus. Die skeidingsmuur is afgebreek, almal het toegang tot die Vader. Almal is nou deel van God se familie. Ons is nou nie meer loseerders (bywoners) nie, ons is nou familie (medeburgers) in die huisgesin van God.
Nou wat is die verskil? As ek ’n medeburger, ’n familielid in God se koninkryk is, het ek deel aan die liggaam van Christus. Ek het ’n verantwoordelikheid, ek dra die karaktereienskappe van iemand wat graag deel van ’n familie wil wees. Ek sien om na die welstand van my familie, ons leef in liefde met mekaar, ons beoefen saam die vrug van die Gees (Gal 5: 22), ons gebruik ons talente tot God se eer. Dit is ’n ewige verbintenis. Ek is nie net ’n loseerder of bywoner wat kom en gaan soos ek wil nie. Wat geen aanspreeklikheid het, of geen belange het nie.
In God se familie is daar nie “klieks” nie, jy betaal nie ’n “klubfooi” om te behoort nie. In God se huisgesin is ons medegelowiges, medeburgers, wat mekaar ondersteun, vergewe, aanmoedig, aanvaar, konfliksituasies uitwerk. In God se familie is daar onvoorwaardelike liefde vir mekaar. As een lid ly, ly al die ander lede saam, maar as een lid geëer word, is al die lede saam bly (vgl 1 Kor 12: 26).
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos
