Titus 3: 1-11

Paulus skryf ’n briefie vir die jong dominee Titus wat op die eiland Kreta al die gemeentes daar moet versorg. Titus preek, besoek, vertroos, vermaan, betig en onderrig die gelowiges in die gemeentes. Soos in enige samelewing, sal daar altyd mense wees wat hulself belangriker ag as ander mense. In Titus se gemeentes was dit mense wat jaloers was op ander; mense wat ander gehaat het; mense wat wou kyk wat hulle uit ander mense kon kry (vers 3). Dit is egter nie hoe gelowiges se lewens behoort te lyk nie. Die verandering in mense se lewens kom wanneer hulle besef dat God ons, deur Jesus wat ons sondeskuld afwas en deur die Heilige Gees wat ons ’n nuwe lewe gee, verlos het (vers 5). God gee dit sonder dat mense dit verdien (vers 5), gee dit uit genade (vers 7). Die gevolg van die gered-wees in Jesus en die nuwe lewe in die Gees, is dat mense hulle nou toelê op goeie werke (vers 8) wat tot voordeel van ander mense strek.

In die koninkryk van God, waar mense die verlossing in Jesus en die nuwe lewe deur die Gees leef, is daar nie plek vir mense wat op mekaar neersien asof party belangriker as ander is nie. Almal is afhanklik van God en almal is deur die genade van God gered. Daarom wil medeburgers van die koninkryk van God mekaar met eerbied en respek behandel. In alles wat ons doen en sê, wil ons ook die belange van ons naaste dien. Uit dankbaarheid vir God se genade, leef verloste mense nie meer tot hul eie voordeel nie, maar doen hulle goed aan mekaar, sodat die wêreld God kan sien en Hom verheerlik.

Waak, Christen, staan in die geloof

dat niemand jou die kroon ontroof!

Wees wys en dapper, sterk en moedig,

– steeds toegewy aan God se werk,

standvastig, onbeweeglik, sterk,

vol ywer, altyd oorvloedig –

dan sal jou arbeid in die Heer

tot seën wees, sy Naam ter eer!

(Gesang 489: 1)

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

af
af
Deel met behulp van
Copy link