Genesis 39: 1-23

Wat het van Josef se drome geword? Hy het ’n visioen gekry dat hy eendag ’n heerser sou wees. Waar staan hy nou? ’n Slaaf! Hy is as ’n slaaf verkoop. Ons kan ons maar net indink hoe bang en benoud hy was.

Opvallend, net toe dit begin beter gaan met Josef, duik ’n volgende probleem op. Weer eens bring sy kleed hom in die moeilikheid, net soos die vorige keer, toe die jas wat sy pa vir hom gegee het, hom in die moeilikheid by sy broers laat beland het. Potifar se vrou gryp sy jas, en dit bring vir hom ellende. Net toe dit lyk of dit beter begin gaan, tref die ongeluk hom, ten spyte daarvan dat hy alles in sy vermoë gedoen het om reg op te tree.

Ken ek en jy dit nie ook nie? Die eerlike persoon word gestraf, en die oneerlikes leef lekker voort. Dan hoor ons die wonderlike troos van die Here in verse 20 en 21: Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind… Die Here was met Josef.

Die Here is ook met ons in ons donker oomblikke. Soms beland ons ook onverdiend in die tronke van die lewe. Ek sit in ’n doodloopstraat by my werk. My drome lê aan skerwe en niks wil uitwerk nie. Weet net dat die Here met ons is. Hy neem ons nie altyd uit ons omstandighede weg nie, maar Hy dra ons daardeur. Hou daarom vas aan die hoop, want ons weet God is met ons wanneer dit goed gaan, en Hy dra ons wanneer ons swaar kry. Ons kan altyd vas bly hoop op ’n lewe saam met God.

Ds Jasper van der Westhuizen, Randfontein Midpark/Westonaria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link