Johannes 20: 19-23

God sien in die Ou Testament dat die mens hulp nodig het, en dan gee God vir die mens leiding deur gebruik te maak van konings en profete, en deur teenwoordig te wees in die natuurverskynsels. In die Nuwe Testament is Jesus Christus as Mens teenwoordig, om leiding en hulp te gee. Dan word die Heilige Gees op elke mens uitgestort om God se teenwoordigheid te ervaar, om nie alleen te wees nie. Die Vader en die Seun openbaar hulle deur die Heilige Gees op gelowiges uit te stort. Die Heilige Gees is teenwoordig om vir ons tot hulp te wees, om vir ons leiding te gee. Die dissipels ontvang die opdrag om as gestuurdes te gaan leef. Die Heilige Gees is die Een wat teenwoordig is en die mens help om ander te vergewe, maar ook die mense lei om God se opdrag te voltooi om as gestuurdes te gaan leef.

Om te hoor dat ons die opdrag het om as gestuurdes te gaan leef, kan oorweldigend wees en ’n paar vrae by mens laat opkom. Waar begin ek? Wanneer moet ek leef as gestuurde? Hoe moet ek leef as gestuurde? Rus hierdie groot werk nou net op my skouers?

In Johannes 20: 19-23 hoor ons hierdie opdrag en roeping, maar ook die gerusstellende boodskap dat hierdie roeping en opdrag nie net op my skouers rus nie, maar dat ek reeds hulp ontvang het om dit te kan doen. Ek hoef dit nie alleen te doen nie, en ek hoef nie eens te wonder waar om te begin nie. Die Heilige Gees is teenwoordig en is reeds besig om te werk. Ons moet dit raaksien en ons moet dit sigbaar maak deur in te spring en saam te werk. Die Gees is teenwoordig, ons is nooit alleen nie, ons kan net as gestuurdes saam met die Gees werk.

Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton

Share via
Copy link
Powered by Social Snap