Hebreërs 11: 1-2

My ouma- en oupagrootjie het op ’n plaas naby Leeudoringstad gewoon. Daar was nie elektrisiteit op die plaas nie. Ek was te bang om iewers heen te gaan as die son gesak het. Die ergste was om in hul gang af te stap. Die hele gang was vol familieportrette. Portrette van kwaai ooms en tannies en baie ernstige kinders. Mense wat iewers in die verlede geleef het en wat deel is van my herkoms. Noudat ek ouer is, het ek meer waardering vir my familiegeskiedenis. Die kwaai ooms en tannies in die familieportrette is deel van my. Hul verhale anker my en help my om my lewenstorie te kan vertel. As ek na hul foto’s kyk, weet ek ek behoort iewers. Ek sien voorbeelde van mense se lewens – hoe hulle die uitdagings van die lewe hanteer het en met geloof geleef het.

Die skrywer van Hebreërs loop ook in die gang af en kyk na ’n paar familieportrette. Hy stel sy hoorders aan ’n paar geloofshelde bekend. Mense wat ook nie in die toekoms kon sien nie, maar met geloofsoë gekyk en God gesien het. Mense wat in God se teenwoordigheid geleef het.

Wat sien mense as hulle na ons foto’s kyk? Gee ons getuienis en ons vermoë om te volhard, vir ander mense die vermoë om God raak te sien? Ek hoor oral klagtes. Alles is vir ons donker en sleg. Ons sien nie vir onsself ’n toekoms nie. Ons lewe sonder hoop. Ons vertel vir ons kinders hoe erg die lewe is. Is die portret van my lewe vir ander ’n anker van geloof, of sluit dit eerder mense se oë vir God se teenwoordigheid? Sal iemand dalk ook iewers in die toekoms my portret in ’n gang ophang en met trots die volgende kan sê: Hy het gelewe met hoop. Sy het my God laat raaksien. Sy het my net weer laat besef: God is my anker, my vaste hoop. Hy is immers die Een wat is en wat was en wat kom. Altyd oral. Gister, vandag en môre.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link