Markus 15: 33-41
My God, my God, waarom het U My verlaat? Met hierdie woorde onderbreek Jesus sy stilte aan die kruis. Dié uitroep verwoord die dieptepunt van Jesus se lyding. Dit is die hoogtepunt van Jesus se verlate eensaamheid. Want sedert die begin van sy lydensweg, het almal rondom Jesus Hom stelselmatig verlaat. Die dissipels het nie verstaan wat gebeur nie, by die tuin van Getsemane het hulle Hom in die steek gelaat, Hy is verraai, verloën, geïsoleer, totdat Hy hier aan die kruis totaal van God verlate voel.
Die kruis is sekerlik een van die lelikste gebeure in die geskiedenis van die wêreld. Aan die kruis moes die Seun van God verneder en bespot word. Hy moes ly en swaarkry. Sy bloed moes letterlik vir ons vloei sodat ons met God versoen kon word. Maar die kruis is nie net lelik nie. Die kruis is ook mooi. Die mooi van die kruisgebeure is ’n mooi wat ’n mens net raaksien in die aangesig van die lelik. Want dit was slegs deur selfopoffering dat God se liefde vir die ganse wêreld geopenbaar is.
Die kruis stel die lewe self voor. As Christene verstaan ons ons hele lewe vanuit die oogpunt van dit wat aan die kruis gebeur het. Die kruisiging van Jesus Christus het geboorte gegee aan ’n nuwe realiteit, ’n nuwe mensheid. Die mooi en die goeie wat hieruit gespruit het, was slegs moontlik omdat Jesus sy worsteling tot aan die einde deurgemaak het.
Ons het baie keer die idee dat die lewe net mooi, maklik en goed moet wees. Maar in die kruisgebeure sien ons dat mooi en lelik, maklik en moeilik, goed en sleg, dood en lewe, die materie is waaruit die lewe opgemaak is. Daar is iets tragies-onbegryplik aan die lewe. Iewers tussen ons wonder oor die sleg en lelik en ons verwondering oor die mooi en goeie, ontmoet ons God. Daar waar die mooi deur die lelik bewerkstellig word, waar die lewe uit die dood kom. Aan die voet van die kruis berus ons in God se onbegryplike liefde.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom