Psalm 86

Psalm 86 vertel van iemand wat in die moeilikheid is en hulpeloos voel. Ons weet nie regtig wat sy probleme was nie. In die eerste paar verse van die Psalm hoor ons sy versugtinge om hulp: …ek roep die hele dag deur na U…

Ons sien hoe hy weer opstaan uit sy wanhoop. Hy besef dat hy God nodig het. In eie krag kan hy nie, en so besef hy opnuut sy eie kleinheid en nietigheid voor God. Biddend nader hy tot God: Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien (vers 11). Self kan hy nie hierdie weg vind of bewandel nie. Net een ding is nodig, en dit is die genade van God. Die diepste grond vir sy gebedsverhoring en die vergifnis wat hy ontvang, is God self. God is goed en Hy is getrou. Sonder aarseling, vertrou hy opnuut sy toekoms toe aan die hande van God. Hy is tevrede.

Wat ons bring by ons werklikhede: persoonlik, in die gemeente, in die land. Hoe hanteer ons alles wat op die oomblik met ons en om ons gebeur? By die Psalmdigter het ons gesien hoe hy sy nood en onsekerheid voor God gaan neerlê, in die vaste vertroue dat God daarmee sal handel.

Hier midde-in die Lydenstyd, op pad na die viering van Paasfees, word ons gekonfronteer met hierdie werklikheid. Maar waaroor gaan dit nou eintlik vir ons? As die Psalmdigter bely dat hy uit die dieptes van die dood gered is, hoeveel te meer kan ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges eggo: Ja, amen vir die opstanding van Jesus Christus uit die dood – daardie erfenis wat vir ons beskore is. Kyk hoe groot is die liefde van God vir ons! Laat ons daarteen vaskyk en God aanhou loof en prys met ons woorde en dade – ja, met ons lewe!

So gaan ons hierdie Lydenstyd in, wetende dat sy genade vir ons genoeg is.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link