Job 2: 13
In hierdie dag en tyd word opnuut die vraag gevra wat elkeen in die een of ander stadium in hul lewe vra: Waarom, hoekom Here…? Wanneer ons met die realiteit van lyding en die dood te doen het, is ons verslae en sprakeloos. Talle poog om ’n antwoord te bied op hierdie vrae van die hart se diepste seer, sodat hulle hulle vinnig vasloop as jobstroosters.
Ons ken die verhaal van Job se seer en verlies. Die rampe wat hom een na die ander tref, sodat sy vriende hom later besoek en probeer troos. Die vriende wat later duidelik blyk nie tot veel troos vir Job is nie, maar sy lyding selfs laat verdiep. Ons ken die verhaal van Job se seer en verlies, want dit is die verhale van talle mense wat ons ken – ook ons eie. Ons ken Job se vriende, want dit is ook ons geliefdes, vriende en onsself wat troos wil bring en liederlik faal deur ons beheptheid met die gee van antwoorde op die vrae van die lewe se diepste seer.
Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om ’n woord met hom te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is. As ’n mens die beste reaksie van die vriende op Job se lyding moet uitwys, is dit sekerlik hierdie deel waar hulle nie probeer redevoerings gee waarom Job so ly nie – dus nie die gee van antwoorde nie! Die beste reaksie is waar hulle in stilte net by Job bly sit. Nie as raadgewers of teoloë wat die oeroue vraag oor lyding probeer beantwoord nie, maar as vriende wat gewoon by Job in sy seer teenwoordig is. Trouens, die vriende wat in stilte by Job sit, is die enigste goeie reaksie.
Dit maak ons wat troos vir iemand moet bied nie praters nie, maar hoorders. Om gewoon daar te wees in ons geliefdes se diepste seer sonder om antwoorde te probeer gee. Teenwoordig in die stilte. Om soos Job se vriende by hulle op die grond te sit – in die eenvoud – sonder om ’n woord te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden
