Lukas 15: 11-32
In die lied Kinders van die wind word ons beskryf as soekers wat nie vind. Hoekom is ons soekers wat nie vind nie? Hoekom soek ons en wat soek ons? Wat is daar wat ons nie vind nie?
Die bekende gelykenis van die verlore seun verwoord iets van ons eie soektog. Soos die verlore seun, is ons dikwels ook op soek en op reis met ons erfporsie in ons sak. Soos die verlore seun, vra ons dikwels ook voortydig na dit wat ons veronderstel ons toekom en gaan soek ons ’n nuwe toekoms. Ons eie drome en planne neem ons somtyds, soos die verlore seun, na ’n ver en onbekende land toe waar ons dink die antwoorde op ons soektog na aardse en tydelike geluk lê. Soos die verlore seun, word ons dan kinders van die wind wat soek en nie vind nie. Wanneer hy honger en alleen by ’n varkhok opeindig, begin daar ’n nuwe soektog. ’n Soektog na hoop en troos. ’n Soektog wat hom eindelik weer sou bring waar hy begin het, by sy pa en broer. Sy soektog bring hom terug in die vaderhuis waar sy reis begin het.
Hoekom is ons soekers? Reeds in die tien gebooie word ons gewaarsku om nie deur ons begeertes gedryf te word nie. Begeertes na meer, hoër en beter, laat ons dikwels in die moeilikheid beland. Ons is soekers wat nie vind nie omdat ons dink ons verdien beter en meer. Ons lees in 1 Timoteus 6: 6 dat godsdiens ’n groot wins is as jy tevrede is met wat jy het. In Spreuke 30: 8 en 9 vra die skrywer vir net genoeg kos, omdat te veel daartoe kan lei dat jy die Here verloën, en te min dat jy steel. Om tevrede te wees met dit wat jy uit die hand van die Here ontvang het, is kosbaar.
Mag ons met dankbaarheid dit wat ons het, waardeer. Kyk om jou maar ook in jouself en waardeer dit wat die Here aan jou toevertrou het. Vind jou rus in die Here en in sy genade. Die Here weet wat ons nodig het en wat vandag vir ons goed is. Mag die genade van die Here genoeg wees vir ons.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas