Psalm 130: 1-2 en 7
In ’n fotoboekie oor Jerusalem, wat ek jare gelede as ’n geskenk by ’n lidmaat gekry het, is ’n briefie vasgekram by die foto van Jerusalem se klaagmuur. Die voorkant van die briefie vertel van ’n man wat toe (in 1973) vir iemand gevra het om hierdie briefie namens hom in die klaagmuur te druk. Aan die binnekant is ’n kort boodskap wat ’n hartseer verhaal van erge pyn en siekte beskryf. Sy toestand het die lewe van die briefskrywer ondraaglik gemaak. Hy pleit dat die Here hom daarvan sal bevry. Dit word moontlik, in sy gedagtes, ’n buitengewoon kragtige gebed omdat dit op ’n baie spesiale plek aan die Here gebied is. ’n Tipe van supergebed wat die Here beter sal laat hoor en spoediger sal laat reageer.
Die digter van Psalm 130 bevind hom in ’n soortgelyke posisie. Sy omstandighede is ondraaglik, en dit noop hom om ’n supergebed, ’n gebed uit die dieptes, met sterk bewoorde taal, tot die Here te rig. Dit is amper asof hy gemeen het hy kan die Here se oënskynlike afwesigheid in teenwoordigheid verander bloot deur harder en duideliker te roep: Luister tog na my, Here! (Ps 130: 2). Die kragtige taal en pleitbede wat met oorgawe uitgeskreeu word, moet dus beter resultate lewer as die gewone daaglikse gebed.
Eindelik besef die digter van Psalm 130 dat die Here op sy tyd sal antwoord gee en dat hy maar net geduldig moet wag op die Here se antwoord vir hom en die volk. So wag ons ook maar op die Here, want dit wat skeefloop in ons lewe, sal Hy op sy tyd en na sy wil verander.
Gebed
Leer ons om geduldig te wees, Here, en te wag op u antwoord. Leer ons om die omstandighede wat ons ervaar, met dapperheid in die oë te kyk omdat ons weet U sal op u tyd die pad vir ons gelyk maak. Amen.
Ds David Barnard, Magaliesmoot