2 Konings 4: 42-44

Hierdie gedeelte het ’n interessante ooreenkoms met nog ’n verhaal in die Bybel. Dink ’n bietjie hoe Jesus se dissipels ook daarteen geskop het toe Hy hulle gevra het om vir duisende mense kos te gee met vyf brode en twee vissies. As ons daaroor gaan dink – dit is nie moontlik nie! En dan onthou ons dat die Here self betrokke was. Hy het nie net eenkant gestaan en kyk hoe sy mense swaarkry nie. Hy het ingegryp en gehelp.

Party dae voel dit of ons ook nie baie het nie. Ons kan dink aan drie eenvoudige voorbeelde. Vandag het ek nie baie geduld nie, dalk is ek ’n bietjie moedeloos, miskien is ek onseker. Hoe kan ek my bietjie brood met ’n ander ook gaan deel? Ek het nie eens genoeg geduld vir myself nie, hoe kan ek met ’n ander geduldig wees? Ons almal weet hoe dit voel om moedeloos, sonder energie of lewenslus te wees. Hoe gaan ek ander kan bemoedig en versterk as ek self so sleg voel? Ons almal ken onsekerheid, so asof daar nie grond onder my voete is nie. Hoe kan ek ’n ander nog vertel van geloof en vertroue? En dan gaan tel ek my seëninge en ek sien weer wat die Here alles vir my gee. Ek sien weer die liefde raak, die geduld wat God met my het, die volharding wat Hy vir my gee, die hoop, geloof, barmhartigheid, versterking. Die Here rus ons elke dag toe met sy gawes, en dis wat ons met mekaar moet gaan deel. Al voel dit of jy te min het, die Here wil vandag deur jou ’n wonder doen!

Doen gerus die volgende oefening en dan kyk jy hoe die teks vir jou oopmaak: Lees weer dieselfde gedeelte, maar vervang die woord slaaf met jou eie naam en hoor hoe die teks dan klink…

Mag hierdie vir jou ’n geseënde dag wees met al die rykdom van God se gawes!

Ds Pieter Rossouw, Sannieshof

af
af
Copy link