Johannes 3: 14-18

Ons leef in verhoudings, van ons geboorte tot by ons dood. Van die begin af leef ons in verhoudings met ons ouers, familie en vriende. Deur die loop van ons lewens kom daar baie verhoudings by. Die belangrikste verhouding van almal is ons verhouding met die Here. Dit is alle ouers se voorreg om hul kinders die allerbelangrikheid van ’n verhouding met die Here te leer.

Selfs God leef nie anders as in verhoudings nie. God leef byvoorbeeld in verhouding met Godself: die verhouding tussen die Vader, Seun en Gees. Drie onderskeibare Persone maar tog een Identiteit. Lees gerus weer die Geloofsbelydenis van Athanasius hieroor.

Verder leef God ook in verhouding met ons mense, van die eerste mense af tot vandag toe. Die verhouding tussen God en mense is vertroebel na die sondeval. Daarom gaan God tot die uiterste toe om die verhouding tussen ons en God te herstel deur sy eniggebore Seun se lewe te offer. Ons lees hiervan in Johannes 3: 16. In hierdie gedeelte kry ons die bekende versekering dat die Here so lief vir ons is en dat ons verhouding met ons Here so kosbaar vir Hom is, dat Hy sy enigste Seun na hierdie wêreld stuur sodat ons nie verlore sal gaan nie, maar dat ons verhouding met ons God en Vader herstel kan word.

As God dan tot die uiterste gaan om ons te verlos, vra dit dat ons wat nou daartoe verlos is, met net soveel oorgawe vir God en ons medemense sal leef.

Gebed

Vader, lei my asseblief om aandag, tyd en moeite te doen met die verhoudings in my lewe. Amen.

Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

af
af
Deel met behulp van
Copy link