2 Korintiërs 2: 12-17

Paulus ervaar ’n goeie tyd in sy verkondiging van die evangelie en daarom sy danklied vanaf vers 14. In hierdie danklied aan die Korintiërs juig hy daaroor dat hy deel kon word van God se triomftog. Hierdie segetog deur die wêreld het moontlik geword deur Christus se oorwinning en hy, Paulus, is deur God se genade ook deel daarvan deurdat hy Christus verkondig. Op ’n onweerstaanbare wyse is God besig om hierdie oorwinning duideliker te laat deurbreek deur mense wat die kennis van Christus oral versprei.

Die kennis, die verkondiging van alles wat Christus gedoen en bereik het, is soos ’n geur wat nie sigbaar is nie, maar onkeerbaar deur alles dring en deur almal in die omtrek ervaar word. Die gedagte van die geur kan verwys na die geur by offerandes, of van wierook wat soms by Romeinse triomftogte gebrand is na oorwinnings oor hul vyande. Vir die seëvierende soldate was die geur dan aangenaam om die oorwinning intens te ervaar, maar aan die ander kant was dit vir die gevangenes wat die stryd verloor het en wat waarskynlik hul lewens gaan verloor, die reuk van die dood.

Teenoor die evangelie van Christus staan niemand ooit neutraal nie: Dit is onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Kor 1: 18). Wie die keuse maak om self verantwoordelikheid vir sy eie lewe te aanvaar, begin ’n proses wat tot die dood lei; wie sy heil by Christus soek, begin ’n proses wat onweerstaanbaar tot die lewe voer.

Kom dit duidelik genoeg in jou manier van praat en doen na vore dat jy die wonderlike geur vanaf Christus gekry het, of gee die gebrek aan vreugde die indruk dat jy iets “sleg ruik”? Versprei jy ook Christus se lewegewende geur? Dit is die geheim van ’n ware lewe van oorwinning en om deel te wees van die ware triomftog!

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link