Kolossense 3: 12-17

Genesis 1 stel dit duidelik dat God geskep het en dat sy handewerk goed was. Sy skeppingswerk het ’n bepaalde verantwoordelikheid op ons skouers geplaas. Ons moet die skepping onderhou en oppas. God het egter ook hérskep. Die wêreld wat Hy tot stand gebring het, was besoedel deur die selfsugtige mensdom. Hy het dit deur Jesus Christus nuutgemaak. Hy het sy skeppingswerk as’t ware weer gebore laat word.

Hierdie nuwe skepping of herskepping raak elkeen van ons se lewe. Ons word, soos met die eerste skepping, tot aksie geroep. Ons kan nie nalaat om te reageer op God se handewerk nie. Kolossense 3 beskryf so treffend dat iemand wat Jesus Christus in sy of haar hart het, iemand wat dus weergebore is, ’n lewe op sý spoor na, sal lei. Dit beteken dat elkeen wat ons pad kruis, soos elke vorm van lewe op aarde, ruimte in ons midde moet vind. Die ruimte moet getuig van ’n gees van toeganklikheid. Niemand behoort ontuis te voel in ons geselskap nie, niemand behoort minderwaardig te voel in ons midde nie, en elkeen behoort te ervaar hoe empaties ons teenoor hulle is. Ons behoort vergewensgesind te wees, hoe moeilik dit ook al soms kan wees. Laastens is dit belangrik om uiting te gee aan jou geloof met jou mond. Onderrig mekaar en sing geestelike liedere. ’n Beduidende persentasie van die bevolking was destyds ongeletterd. Om dus ’n liedjie aan te leer en gereeld te sing, was ’n manier om die blye boodskap te verkondig en dit jou eie te maak.

Dalk sou dit die moeite loon om onsself aan God se skeppings- en herskeppingswerk te meet en vas te stel waar presies ons staan. Sien ons onsself as mense wat bedién moet word deur sowel die eerste skepping as die herskepping, of is ons, soos Jesus, diensknegte wat sy beeld in die wêreld reflekteer?

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link