2 Timoteus 4: 1-8, 14-18

Paulus verduidelik vir Timoteus hier dat sy aardse wedloop verby is. Hy besef dit is nou die laaste en dat hy tot die dood veroordeel sou word. Volgens hom word hy reeds as drankoffer uitgegiet. Tradisioneel was dit wyn wat teen die altaar uitgegooi is. Hy sê dat sy lewe so vir die Here uitgegiet was.

In Paulus se laaste brief sien ons dan ook sy afskeidswoorde aan Timoteus. Staan sterk, verkondig die woord van God eerlik en opreg, want daar sal leermeesters kom wat net sal sê wat die mense wil hoor en nie wat hulle moet hoor nie. Juis daarom sal Timoteus ook aangeval en selfs gehaat word. Paulus noem dit juis aan Timoteus, want hyself het dit in sy lewe ervaar en sit nou in die tronk as gevolg van sy geloof.

Paulus was egter nie altyd die groot geloofsman van wie ons in die Bybel lees nie. Ons ken die verhaal van Paulus wat eers Christene vervolg het, totdat die Here in sy lewe ingegryp het. Van daar af het Paulus ’n buitengewone lewe gelei. ’n Lewe vervul met die krag van die Here. Krag wat hom in staat gestel het om wonderlike dinge te bereik en so ook die evangelie te verkondig, ten spyte van dinge wat verkeerd geloop het of mense wat sy planne doelbewus laat misluk het.

Jesus Christus inspireer elkeen van ons ook om sulke dinge elke dag te doen. Om bo ons omstandighede uit te styg en te volhard in geloof. Paulus is die bewys dat dit gedoen kan word, ongeag wat jou omstandighede of verlede is. Jesus gee jou die krag. Wat maak jy daarmee? Styg jy uit? Lewe jy buitengewoon soos Paulus? Word jy daagliks versterk om te volhard in jou geloof?

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link