1 Samuel 18: 6-16

Jaloesie kan ’n verskriklike, vernietigende wapen word in die mens se hand. Dit is ook duidelik dat jaloesie heel dikwels te bespeur is in die lewens van gelowiges. Ons wil nie toelaat dat ’n ander beter presteer as ons nie. Ons wil ook nie altyd hoor hoe daar met ander se deugde en prestasies gespog word nie.

Met Dawid wat so opgang gemaak het in die leër van Saul, het Saul bedreig gevoel. Hy kon dit nie verduur dat Dawid so deur die volk opgehemel word nie. Dit word duidelik in ons Skrifgedeelte beklemtoon. Saul en Dawid keer saam met die manskappe terug huis toe en word begroet met sang en musiek terwyl daar gedans word. Juis dan hoor Saul hoe daar gesing word: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende! Onmiddellik word daardie vuur van jaloesie aangesteek en raak Saul ergerlik oor die volk se optrede. Die vuur word egter groter wanneer die jaloesie ook later lei tot wantroue, wat vernietigende implikasies tot gevolg gehad het.

Miskien is dit nodig dat ons na ons eie jaloesievlakke moet kyk. Het jaloesie wat dalk buite beheer geraak het, nie ook al my en jou gedagtes beïnvloed, ons gedrag laat versleg en die saadjie van haat in ons geplant nie? Dawid het op ander dinge gefokus. Hy het geleef en gewerk en die oorwinning behaal, maar hy was konstant bewus van die versorgende en genadige hand van die Here in sy lewe. Later lees ons dat dit vir die jaloerse Saul duidelik geword het dat die Here naby aan Dawid was. Jaloesie vernietig. Vermy dit!

Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap