1 Konings 19: 3-8 en 15; Markus 9: 20-27

Ons lewenspad is nie altyd gelyk en reguit nie. Ons worstel dikwels met siekte, pyn, spanning, broodgebrek, ’n huwelik wat nie werk nie, trane, die dood… Gelukkig is ons gelowig. Ons geloof is so sterk dat ons soos Elia moedig kan staan voor die hele land se afgode. Soos die pa van wie ons gelees het, is ek absoluut oortuig Jesus sal my kind genees. Maar nou gebeur dit ook dikwels dat ons vandag nog sterk staan in die geloof, maar môre verval ons in totale kleingeloof en ongeloof. Ons vrag word te swaar. Die lewe is vir ons een groot, donker gat.

Feitlik elke mens ken sulke donker oomblikke. Elia was een dag nog vol geloof en manmoedig voor die hele Israel en die ganse mag van Baälpriesters. Twee dae later, slegs na die dreigemente van die koning se vrou, lê hy moedeloos onder ’n besembos en roep uit dat die pad vir hom te lank geword het, dat hy maar liewer wil sterf (1 Kon 19: 4).

Jesus sê vir die man in Markus 9 wat sy seun na Hom gebring het, as hy glo, is sy kind se genesing moontlik. Hoor die merkwaardige woorde van die pa: Ek glo, help my waar ek nog ongelowig is (vers 24).

In ons lewe gebeur dieselfde. Vandag, nieteenstaande groot hartseer, vrees of nood, is ons nog vol hoop, sterk in die geloof en sien ons kans vir alles. Maar môre, sonder dat iets erger gebeur, is ons meteens in ’n donker gat, verval ons in kleingeloof, wanhoop en desperaatheid.

Nieteenstaande die pa se ongeloof, genees Jesus die kind. Die Here verwerp nie vir Elia nie, maar rig hom op en gebruik hom steeds in sy diens. Jesus se belofte bly staan dat Hy altyd met ons is. Ons kan daarom seker wees dat in ons grootste nood, ons kleinste geloof, Hy krag en genade sal gee dat ons kan voortgaan.

Prof Bieks Beukes, Emeritus

Share via
Copy link
Powered by Social Snap