Psalm 23: 1-6

Een van die grootste stressors in enige mens se lewe is die moontlikheid van verlies. Jy kan jou werk, jou gesondheid, jou geld, jou reputasie, of ’n geliefde verloor. Wanneer mense met die moontlikheid van dood en verlies gekonfronteer word, is daar vrees en hartseer oor die dreigende verlies. Hartseer of rou is die manier waarop ons treur en deur die oorgange van die lewe kom, maar vrees vir die moontlikheid van verlies is ’n gevoel wat ons ervaar wanneer ons dreigende gevaar beleef. Hierdie gevaar dui nie net op lewensgevaar nie, maar enige situasie wat ’n bedreiging inhou. Dit kan ’n gevoel van angs wees, van bang en bekommerd wees.

Die Psalmdigter het geweet dat God hom sal beskerm, en hy het God vertrou, selfs om die dood in die gesig te staar in die donkerste dieptes. Miskien gaan jy nou deur donker dieptes. Dit kan die donker diepte van vrees, mislukking, skuld, konflik of verwerping wees. Die goeie nuus is dat die skaduwee van donker dieptes jou nie kan seermaak nie. Skaduwees is altyd groter as die bron waarvandaan dit kom. Waar daar ’n skaduwee is, moet daar ’n lig wees. Jy kan nie ’n skaduwee sonder lig hê nie. Dus, die geheim wanneer jy deur die dal van donker dieptes gaan, is om jou rug op die skaduwee te draai en na die lig te kyk. Solank jy jou oë op die lig hou, kan die skaduwee jou nie bang en benoud maak nie.

Vertrou God in die donker dieptes, soos die Psalmdigter dit bevestig: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie… Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (Ps 23: 1 en 4). Jesus het gekom as die Goeie Herder en die Lig in die doodsgevaar en donker dieptes in die wêreld, om die Herder vir sy skape te wees en vrees en donker te verdryf en te vernietig.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link