1 Johannes 3: 18-24

Ons praat nogal baie in die kerk. In ons gemeentes praat ons in tientalle vergaderings. Ons het ook meerdere vergaderings (op ringsvlak en sinodaal), waar gepraat word. En dit wat gepraat is in vergaderings, wil ons in komitees en kommissies verder deurpraat en uitpraat. Die vraag is: Hoeveel van al die gepraat lei daartoe dat die koninkryk van God meer sigbaar word?

Jakobus herinner ons daaraan dat geloofspraatjies sonder geloofsdade betekenisloos is. Ferdinand Deist het dit jare terug woordinflasie genoem. Inflasie het onder andere daarmee te make dat daar in die ekonomie van ’n land meer geld in omloop is as wat daar produkte is wat gekoop kan word. Met Woordinflasie bedoel Deist dat daar te veel geloofswoorde in omloop is, met te min geloofsdade wat dit ondersteun. Ons praat byvoorbeeld oor liefde, maar leef dit nie. Ons praat van vergifnis, maar vergewe nie; van medelye sonder om saam swaar te kry.

Inflasie het ook te doen met die feit dat mense meer geld uitgee as wat hulle verdien. Hulle maak dus skuld om hul oorbesteding te finansier. Ek vind myself gereeld in die skuld by God. Ek lees ’n gedeelte uit die Skrif met die vroom voorneme om in gehoorsaamheid daarop te reageer. Maar dan gebeur die lewe… ek raak besig en ek kom nie daarby uit nie. Ek raak dieper in die skuld by God en medemens. Te veel woorde; te min dade. Inflasie hou ook verband met oorbesteding deur die staat. Ek wonder: Hoeveel genade moes die Here al aan my oorbestee? Ek wanbestuur my lewe soos ’n tipiese Eskom of SAA, net om weer bakhand voor die Here te staan: Here, ek het (weer) misluk. Ek weet nie waar die tyd en gawes heen is wat U my gegee het nie. Gee my asseblief nog…

Ons word in 1 Johannes 3: 18 vermaan dat ons liefde nie net lippetaal mag wees nie. Dit moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.

Here, help my om minder geloof te praat en meer geloof te doen. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link