Jesaja 43: 1-7

Adventstyd het aangebreek – ’n besondere tyd van die jaar, en ons dae gaan in die komende weke gevul word met opgewondenheid en kinderlike afwagting. Maar daar is ook diegene vir wie dit ’n hartseer tyd is waarin die gevolge van verlies en eensaamheid vlak onder die keel kom sit – of dalk voel soos ’n klip wat in jou maag lê gekry het. Miskien beleef jy ook soms die intens pynlike gevoel van verlies – dalk vandag?

Iets hiervan word treffend verwoord deur Hester Heese in ’n gedig waarvan ek ’n uittreksel hier deel:

Jy mag maar jou koffie slurp of in jou piering gooi

Jy mag maar met vuil voete oor die wit mat loop

Jy mag maar jou naels byt

vals sing

swak groente huis toe bring

die badkamer omkrap

die nat vloer opdroog met my waslap…

Jy mag maar snags hard snork

oor koue voete brom

As jy net terug wil kom.

Die seer van verlies… Ja, ’n mens besef die gekke gekibbel oor kleinighede is so onnodig. Ons gaan selfs die dinge wat ons irriteer, heel moontlik mis as dit nie meer daar is nie. Waardeer wat jy het. En as jy eensaam voel, en jy weet dat hierdie maand se Kersversierings en Kersklanke vir jou ’n beklemming om die hart gaan gee, en jy wens jy kan net aan die slaap raak en eers in die nuwe jaar wakker word, onthou dan God se belofte in Jesaja 43: Ek is by jou. Hy is hierdie Adventstyd steeds Immanuel – God by ons.

Die Here sal by jou wees waar jy jou ook al bevind. Volgens die Matteus-evangelie was Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels: Onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. God bly by ons waar ons ook mag gaan. En indien jy nie enige verlies self beleef nie, steek ’n hand van liefde en ondersteuning uit na hulle wat seer het, gee ’n woord van bemoediging, bied ’n vertroostende skouer – en moet ook nie hulle wat na binne huil, vergeet nie.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap