Matteus 24: 36-44
Jesus sê dat ons gereed moet wees vir sy wederkoms, want daardie dag sal heeltemal onverwags kom. In daardie tyd was daar ook skelms wat ingebreek en gesteel het. Deur hierdie beeld te gebruik, lê Jesus klem op die onvoorspelbaarheid van die wederkoms. Jy sal nie weet wanneer dit gebeur nie, totdat dit gebeur, soos ’n dief wat by jou inbreek. Daarom moet ons altyd gereed wees.
Daar was nog altyd deur die geskiedenis heen mense wat die einde van die wêreld voorspel het. Net in my leeftyd sou die wêreld al ten minste vyf keer moes vergaan het as ons na doemprofete moes luister. Bybelboeke soos Daniël en Openbaring word dikwels deur mense gebruik om hul antwoorde te bevestig. Deur die geskiedenis heen het groot en ontwrigtende gebeurtenisse mense laat dink dat die einde van die wêreld naby is. Met die Wêreldoorloë het dit sekerlik gelyk na die einde. Met die pandemie ’n paar jaar gelede het ons ook amper al begin wonder of dit nie die einde is nie. Maar keer op keer is die mense verkeerd, want dit gaan nie oor die spesifieke tyd waarop jy ingestel moet wees nie, maar eerder op jou geloof wat altyd gereed moet wees.
Tog is daar tekens dat die wederkoms naby is, want die eindtyd het begin na Jesus se hemelvaart. Maar wanneer Jesus oor die eindtyd praat, lê Hy nie klem op die tyd en besonderhede van die einde nie, maar eerder op ons geloof. Glo ons nog werklik? Ons moet seker maak dat ons gereed lewe, want enige dag kan ons laaste wees op aarde. Moenie uitstel om in God te glo en met Hom in ’n verhouding te leef nie. Maak stukkende verhoudings nou reg, nie later nie. Jesus moedig ons immers aan om gereed te lewe.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
