Hebreërs 2: 5-18

Volgens die skrywer van die Hebreër-brief was Jesus se koms nie ter wille van engele nie, maar ter wille van die mens. Hy haal uit Psalm 8 aan. Hierdie Psalm besing die grootheid van God en sy goedheid teenoor die mens. Die mens in vergelyking met die grootheid van God se skeppingswerk, is eintlik nietig. Tog gee die Here aan die mens ’n besondere plek in sy skepping. Hy beklee hom met heerlikheid en onderwerp alles aan sy voete. In Jesus sien ons hierdie heerlikheid. Dit wat die mens nie kon doen nie, doen God in Jesus wat mens geword het.

Daarom is Jesus se koms na die wêreld nie net ’n kriptoneel nie. Ons sien Hom nie net in ’n stal nie, maar veral wanneer ons die volle omvang van sy heilswerk begryp. Die mens se posisie word herstel, en hy word met heerlikheid beklee wanneer Jesus met sy koms na hierdie wêreld die stukkende verhouding tussen God en mens kom herstel. Deur sy menswording, sy lyding en sy offer bring Jesus die hoë verwagtinge wat in Psalm 8 aan die mens gestel word, tot vervulling. Op grond van Jesus se menswording word mense wat geheilig word, sy broers en susters genoem, en daarom kinders van God en mede-erfgename van die seëninge van God.

Omdat Jesus in die plek van die mens kom staan en in elke opsig gelyk aan die mens geword het, kan Hy die mens in al sy nood help. In een opsig het Jesus van die mens verskil. Hy het nie sonde gedoen nie. Daarom kon Hy as Hoëpriester die sondes van die volk van God versoen. Omdat Jesus ons Leidsman tot saligheid is, dink ons in Adventtyd nie net aan sy geboorte en die betekenis daarvan nie, maar sien ons ook met verwagting uit na sy wederkoms.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link