1 Johannes 5: 13-17

Epifanie beklemtoon dat God in Jesus Christus op hierdie aarde gebore is, sodat ons kan weet dat ons die ewige lewe het. 1 Johannes is ’n herderlike skrywe, ’n brief uit die kop en hart aan gemeentes. Geskryf in ongeveer 95 tot 100 nC. Bybelstudente aanvaar dat dieselfde skrywer wat die Johannes-evangelie afgerond het, 1 Johannes kon geskryf het. In die gemeentes was daar onduidelikheid oor wie en wat Jesus van Nasaret was. Dwaalleraars het verkondig dat Hy net ’n mens was, dat Hy nie die Seun van God is nie. Hulle het dus nie die bestaan van Jesus as mens ontken nie, maar vir hulle was Jesus bloot ’n intelligente mens met besonderse magte. Dit beantwoord die vraag na Jesus se identiteit. Vir Johannes lê die uitleef van ons geloof in liefdesdiens.

Waar sal ons begin? Al lyk dit hoe gering, maak ’n verskil. ’n Glimlag vir iemand wie se hart vol eensaamheid en onsekerheid is, ’n geldjie vir iemand wat nie weet of hy vandag genoeg gaan maak om ’n brood te koop nie, ’n boodskap vir iemand wat voel almal het haar vergeet, ’n woordjie van bemoediging vir haar wat voel alles is nou te veel. ’n Mens sal altyd spontaan weg van mense in nood dink en beweeg. Spontaan gaan dit oor die eie ek: ek, ekker, ekste! Dit vra ’n gelowige wilsbesluit om anders op te tree.

In Johannes 3: 16 lees ons: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. In Gesang 334 lees ons: “God is liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen: Dat Hy ons sy Seun gestuur het om ons sonde te versoen. Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef – nou kan ons, uit God gebore, uit die bron van liefde leef! Deur sy Gees, die wondergawe, laat Hy wederliefde spruit; en dié liefde – wat volmaak is – dryf die vrees en selfsug uit. As die Vader in sy liefde dan die sondaar maak tot kind, mag sy Seun al meer gestalte in ons doen en late vind!

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

Share via
Copy link
Powered by Social Snap