2 Korintiërs 1: 1-11
In hierdie eerste paar verse van Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte sien ons dat Paulus al deur diep waters is. Ongelukkig sê hy nie vir ons watter soort moeilikhede oor sy pad gekom het nie, maar ons weet net dat hy beproewings en swaar tye moes deurmaak. Paulus moes selfs die moontlikheid van die dood in die gesig staar.
Trauma, verlies, hartseer, uitdagings, ongeregtigheid, nood, moeilike dinge, kom oor ons elkeen se pad. Sulke ervarings, weet ons, ruk ons tot stilstand en laat ons vrae vra en dinge heroorweeg in ons lewens. Na so ’n moeilike tyd kan ons nie anders nie as om in die lig daarvan anders na die wêreld, onsself en ander te kyk. Maar waaraan Paulus vashou, is Christus.
Die lyding en bemoediging van Christus vorm die kern van hoe Paulus die swaarkry in sy lewe verstaan. In Christus se lyding vir ons almal vind Paulus troos, bemoediging en genade vir sy eie situasie. Ten spyte van alles, word Paulus bewus van God se ontferming en nabyheid en dat God deur alles by hom is. Dat dit God is wat vir hom uitkoms gee en op wie hy hoop.
Paulus se eie swaarkry gee hom insig: Deur sy lyding word hy verenig in Christus se lyding. Hy ervaar in sy binneste en aan sy lyf iets van wat Jesus ook moes deurmaak. Paulus se swaarkry stel hom ook in staat om ander in hul lyding te verstaan en te bemoedig.
In jou stiltetyd:
Dink aan ’n moeilike tyd of beproewing wat jy al in jou lewe ervaar het.
Is daar iets uit jou ervaring wat jou dalk insig in ander kan gee?
Hoe kan jy dit wat met jou gebeur het, gebruik om ander by te staan?
Wat het jy van God geleer deur jou ervaring?
Ds Erika Ferreira, Bellville
