Johannes 3: 9-17

Nikodemus vra: Hoe is dit moontlik? Hoe kan hierdie nuwe geboorte plaasvind? Hoe kan ’n mens daaraan deel kry? In Jesus se antwoord wys Hy duidelik vir Nikodemus op sy misverstand aan die begin van die gesprek. Daar het hy Jesus as ’n besondere  leermeester erken, en nou sê Jesus vir hom: Jy is die bekende leermeester van Israel… Albei is leermeesters op aarde, maar dit is ’n fout. Jesus is baie meer as dit! Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het… Wie anders was self by God om werklik met gesag oor die koninkryk van God te kan praat as Hy, Jesus? Hy alleen kan regtig oor die hemelse, die Goddelike, praat. Hy is glad nie op die vlak van aardse leermeesters nie. Daar moet geheel en al anders na Hom gekyk word.

Hoe moet na Jesus gekyk word? Soos Israel in die woestyn na die koperslang gekyk het. Dit is ’n stukkie geskiedenis waarvan Numeri 21: 5-10 vertel. Toe die volk ongehoorsaam was, het daar giftige slange gekom wat vir baie se dood verantwoordelik was. Toe Moses hulp vra, het hy die opdrag gekry om ’n koperslang te maak en dit op ’n paal te sit. As iemand deur ’n slang gepik is, moes hy alles los en net na die slang kyk om te bly lewe. Deur dit te doen, het so ’n persoon gewys dat hy sy volle vertroue alleen op God stel. So sal Jesus verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Hoe kyk jy na Jesus? Is dit met volle oorgawe sonder om self te probeer verdien, sonder om verwaand te wees en aan beheer te wil vashou? Is jy daarop gefokus om in Hom God se onbegryplike liefde raak te sien en te ervaar sodat Hy jou lewe kan verander? Dit is dan dat jy deur God se Gees sal ontdek dat jy waardig is om kind van God met ’n besondere roeping te wees.

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link