Psalms 123 en 124

Die lewe draai baie keer sy rug op ’n mens. Glo my, in hierdie jaar wat voorlê sal ons waarskynlik iets daarvan ervaar. Die impak van die 2020-pandemie gaan ook nie soos mis voor die son verdwyn nie.

Die pelgrim van Psalm 123 ervaar saam met sy volksgenote die lyding van verdrukking en vernedering (verse 3-4). Soos ons verlede jaar ervaar het, sal die lyding wat dalk in hierdie jaar op ons wag, nie net fisies wees nie, maar ook emosioneel. Traumatiese gebeure het sosiale, fisiese, psigiese en ook geestelike impak op ’n mens. In sulke tye op ons lewensreis moet ’n mens hulp soek en mekaar ook behulpsaam wees. Die Psalmdigter leer ons dát ’n mens, en hóé ’n mens, dan met jou klaaglied en nood na God toe kan gaan.

In sy neerdrukkende situasie kyk hy op na God wat op die troon sit. Hy raak intens bewus van die groot verskil tussen sy menslike magteloosheid en die grootheid van die krag van die hemelse Koning, op wie alleen hy kan vertrou. Net so belangrik is die gesindheid van sy hart waarmee hy en sy medegelowiges hulle saam in gemeenskaplike gebed na God wend. Die vergelyking met die houding van ’n slaaf en ’n slavin voor hul eienaar, openbaar respek en nederigheid voor God, maar ook die besef dat die Goddelike ingryping waarvoor hulle bid, alleen maar van God afhang. Dit is net genade, en daarom kan hulle gelowig hoop en geduldig wag! Op ons pelgrimsreis van 2021 moet dit ook die hartklop van ons gebede wees.

Juis daarom kan ook ons verwag dat ons klaaggebed ’n danklied sal word. Die digter van Psalm 124: 2-5 dink terug aan wat nie met hulle in hul nood gebeur het nie, want God het ingegryp! ’n Mens verstaan eers die liefde en krag van God as jy terugkyk en besef dat die onheil jou nie vernietig het toe dit jou getref het nie. Dan beleef jy die reddende dade van God as wonderwerke, want God is die Skeppergod!

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link