Johannes 1: 19-34

Die bekende skilder Matthias Grunewald het onder andere ’n aangrypende kruistoneel geskilder op die altaar in die kloosterhospitaal in Isenheim. Hande speel ’n belangrike rol in die skildery. Daar is byvoorbeeld die uitgestrekte, biddende hande van Maria; daar is die hande van Johannes, die evangelis wat Maria vashou; die verwronge hande van die Gekruisigde; en dan die hande van Johannes die Doper. Met een hand hou laasgenoemde ’n perkament vas en met die ander wys hy na die Gekruisigde. Sy wysvinger is opvallend groot, eintlik groter as lewensgroot. Op ’n manier sit sy hele liggaam daaragter, daarin. Hierin is die wese, die karakter, die ganse identiteit van die Doper opgesluit: om Christus uit te wys as die Lam van God wat die sonde van die mensdom wegneem.

Identiteit. Hoe baie word daar nie in ons tyd in die kerk hieroor nagedink nie. Wie is die kerk en watter rol moet ons speel? Wat is ons roeping, en waarin bestaan ons hoogste prioriteite? Johannes die Doper bied aan ons ’n aangrypende antwoord.

As hulle hom vra wie hy is, antwoord hy opvallend ontkennend. Hierdie antwoord is vir die kerk van groot belang. Hy antwoord: Ek is nie die Christus nie (vers 20). Ek is nie die Een na wie julle hunker nie. Ek is nie die Verlosser nie, het nie die woorde van die ewige lewe nie. Hy wys weg van homself. Hy wys na Christus. Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (vers 29).

Hierin bestaan die identiteit van die kerk: om Hom aan te dui, uit te wys, te verkondig, te roem. Dit is wat ons is: ’n mondvol hoop en ’n vinger wat vooruitwys na Hom. Hy is die inhoud van ons kerkwees, ons prediking en ons teologie. Epifanie vra ons om ook weer oor ons ware identiteit te besin.

Gebed

Here, help my om elke dag weg van myself na U te wys en so die hoop te wees vir ’n mensdom wat na U smag.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap