1 Samuel 15: 34 – 16: 11

Ek weet nie of julle al van The Human Library gehoor het nie. Dit is ’n wonderlike projek in meer as 50 lande. Dit is ’n biblioteek, nie van boeke nie, maar van regte mense. Mense word “uitgeleen” sodat jy hul lewensverhale kan lees. Elke menslike boek het ook ’n titel, soos Bipolêr, Verslaafde, Werkloos, Vlugteling, of wat die geval ook al mag wees.

As jy dan die boek uitneem en na die storie luister, ontdek jy opnuut dat ’n mens nooit ’n boek op sy buiteblad moet takseer nie. Die oogmerk is om mense te begelei om vooroordeel te beperk. Want die hartseer waarheid is dat ons vrot is van vooroordeel. Ons vorm partykeer sommer met die eerste ontmoeting ons “volledige” prentjie van ander. En dan is ons later onwillig om ons eie kitsgevormde prentjie met die waarheid te bevlek…

Ons lees in 1 Samuel 16: 7 dat die Here vir Samuel sê: Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur (AFR2020). Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart. Hy wil dieper kyk as die buiteblad van die boek. Hy wil die hart van die mens raaksien.

Ons maak te maklik afleidings en vorm opinies oor mense op grond van wat ons sien. Dink maar aan velkleur, kleredrag, lengte, hare, oë, hande, die motor waarin ons ry, die huis waarin jy bly… Ons verhef hierdie waarnemings tot byna die finale oordeel oor die mens. God oordeel anders: Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart. Die jong skaapwagtertjie in mense se oë, sien God as ’n koning.

Daarom kan niemand in die geloof klein oor ander (of oor hulself!) dink nie. God se krag word juis dikwels sigbaar in die onwaarskynlike en die swakke.

Gebed

Here, help ons om ook, soos U, na die harte van mense te kyk. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link