Jesaja 58

Geloof werk nie vir my nie! Of nog ’n ietjie nader aan myself: Mý geloof werk nie! Ek lees die Bybel en ek bid en ek gaan kerk toe, maar ek het meer vrae as antwoorde en my probleme het nie oplossings nie. So gereeld hoor ek mense wat sê hoe daar uitkoms gekom het nadat hulle gebid het, of dat alles net goed gaan met hulle…

Miskien verstaan ons verkeerd, soos die mense in Jesaja se tyd! Ons lees daar in vers 3: Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie? Dit klink byna asof die Here móét reageer soos ons vra, omdat ons dan die regte dinge doen! In vers 2 sê God van die volk dat hulle vra na God se wil, asof hulle wil weet wat God van hulle verwag. Die volk vra om regverdige beslissings asof hulle van God se teenwoordigheid hou. Miskien werk my geloof nie omdat ek dínk ek vra en doen soos en wat God van my verwag.

Kom ons lees weer Jesaja 58: 6 en 7: Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

Die beloftes van die Here, wanneer ons só lewe, word in verse 8-14 beskryf: Die Here sal voor jou uitgaan en agter jou aankom; jy sal roep en die Here sal antwoord; die lig sal skyn waar daar duisternis is en jy sal die vreugde van die Here beleef. Die God in wie u en ek glo, bly altyd getrou!

Gesang 498: 1

Ds Leon Geel, Grimbeekpark

af
af
Deel met behulp van
Copy link