Hebreërs 2: 1-18
Die Heilige Gees werk kragtig in die harte en lewens van mense wat God vir Hom afsonder. Die gawes van die Heilige Gees (Heb 2: 4) is ’n instrument om redding en saligheid vir mense ’n werklikheid te laat word. Om in Christus te glo, is om te glo in dié Een wat die ewige saligheid vir ons moontlik gemaak het. Dit is om vry te wees van die slawebande van die dood en sonde. Jesus Christus is die Leidsman tot ewige lewe. Niemand of niks anders kan ’n mens red nie. God het die finale openbaring in sy Seun gegee. Die waarheid van die evangelie is ’n saak van lewe en dood. Om die evangelie te verontagsaam, het finaal vernietigende gevolge.
Jesus is nie net ’n boodskapper van God nie. Hy is die Boodskap. Die profete het Hom voorspel, maar die belofte is in Christus vervul. Wie in Christus glo, se hele lewe word nuut gemaak. Met sy koms breek die koninkryk van God aan. Wie in Christus glo, se sonde is vergewe. Dit is ’n bevrydende woord. Deur die werking van die Heilige Gees word hierdie boodskap van redding die waarheid. Hierdie boodskap is eenvoudig. Glo en jy is gered. In geloof word hierdie boodskap toegeëien. Dit is alles moontlik omdat die Heilige Gees by ons inwoon. Die boodskap van redding dra gewig omdat God self getuig.
Jesus het gekom om ons te red van ’n sonde- en doodsbestaan. Hy het ons reeds gered, is elke dag besig om ons te red en skenk aan ons die toekomstige wêreld wat Hy vir ons bewaar. Dis die evangelie, die Blye Boodskap. Dit is ’n boodskap van lewe in oorvloed. Dit is ’n geloofwaardige boodskap. God self getuig dit deur sy Gees aan ons. Deur die werk van die Heilige Gees word geloof in Jesus Christus vir ons ’n werklikheid, ’n leefstyl, en word ons lewe ’n dankoffer tot eer van God.
Dit klink te goed om waar te wees, te eenvoudig om te glo. Maar dit is die evangelie van God.
Ds Willem Kok, Potchefstroom
