Titus 3: 1-7
Die wêreld om ons verander vinnig en as ons iets geleer het die afgelope paar jaar, is dit hoe aanpasbaar ons is. Hoe ons saam met omstandighede verander en die nodige aanpassings maak. Tog is daar ’n deel van ons wat moeilik verander: ons geloofslewe. Ons leer vinnig om dinge op ’n ander manier te doen, maar waarom sukkel ons dan so om in ons geloof anders te dink en doen?
Uit Titus is dit duidelik dat dit nie net ons is wat met hierdie verandering sukkel nie, maar ook die gelowiges op Kreta. Hierdie jong gelowiges het leiding nodig gehad sodat hulle nie weer terugkeer na die lewe voor hul bekering nie.
Daarom dat Paulus met die woord herinner begin. Eers moet ons onthou wie ons eens was en dat die sondes van ander nie so ver van ons is soos ons graag wil glo nie. Ons was – en is soms steeds – kwaadpraterig, ongehoorsaam, kwaadwillig, jaloers en haatlik teenoor ander. Tog het God ons steeds lief. God verlos ons nie op grond van dit wat ons doen of nie doen nie, maar alleen deur genade.
Saam met die nuwe lewe wat Hy ons gee, het ons ook die Heilige Gees ontvang om ons aan te moedig, om ons krag, vreugde en vrede te gee en ons toe te rus met sy gawes. Met ons nuwe lewe en die Heilige Gees in ons, het ons geen rede tot grootpratery nie. Ons kan ook nie op onsself roem nie, want sonder God se genade sou ’n nuwe lewe nie moontlik gewees het nie. Daarom kan ons nie anders nie as om dankbaar, nederig en vriendelik te wees.
Daarom behoort Christene op ’n geloofwaardige manier God se genade in hierdie deurmekaar wêreld sigbaar te maak. Dit kan ons alleen doen wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lei.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes
