Openbaring 12 (AFR2020)

’n “Woestyn” in die antieke wêreld was nie so genoem weens die klimaat nie. ’n Woestyn was enige plek wat buite die grense van die “beskaafde” stede geval het. Hierdie gebrek aan sosiale strukture het tot gevolg gehad dat woestyne bewoon is deur wilde diere (Mark 1: 13), en dit het weer die gevolg gehad dat woestyne plekke van gevaar was wat mense sou wou vermy (Eks 23: 29; Deut 7: 22). Verder was ’n woestyn een van die plekke waar geestelike wesens, gewoonlik bose geeste, gevind is en waar hulle gebly het (Matt 12: 43-45; Luk 11: 24-26).

Openbaring 12 vertel vir ons van ’n vrou wat deur ’n groot vuurrooi draak bedreig word en hoe hierdie draak daarop uit is om haar te vernietig (Op 12: 1-4, 13-18). Weens die gevaar waarin die vrou verkeer, moet sy vlug na ’n plek waar sy veilig kan wees en versorg kan word. As ons in gedagte hou hoe daar oor woestyne gedink is, sou dit besonder vreemd op die oor geval het vir die sewe gemeentes toe Johannes hulle vertel dat die vrou die woestyn ingevlug het (Op 12: 6). Tog is dit presies waarheen die vrou vlug vir veiligheid en sorg. Die rede waarom hierdie woestyn vir haar ’n plek van veiligheid word, is nie weens ’n  spesiale oase wat daar aangetref word nie, maar eerder, soos Johannes sê, omdat hierdie ’n plek is wat deur God gereed gemaak is vir die vrou se versorging en beskerming (Op 12: 6, 16).

So maak Johannes dit duidelik aan die sewe gemeentes dat hul veiligheid nie daarvan afhang om binne die mure van groot en weelderige stede te wees nie, maar eerder om op God te vertrou. Hy sal aan hulle ’n veilige plek van bewaring bied. Natuurlik is dit ook waar vir ons. Ongeag of dit voel of ons soms in “woestyne” van ons eie leef, ons kan seker wees dat God met ons is en dat God aan ons beskerming sal bied. God kan woestyne in plekke van beskerming verander.

Gesang 286

Ds John Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link