Romeine 15: 13
In 2017 het Jo Black ’n lied vrygestel met die titel Bring die hoop weer terug. In die lirieke van die lied kan ons die worstelstryd hoor oor wat hoop vir baie mense in Suid-Afrika mag beteken. Is hoop ’n nuwe dagbreek? Is hoop vrede? Is hoop om saam met mense te verkeer? Hierdie lied laat ’n mens ook nadink oor wat hoop vir jou persoonlik kan beteken. Wat sal maak dat jy weer hoop vind, of selfs sal uitsien na ’n nuwe dag?
In die konteks van ons landsomstandighede is dit maklik om hoop te verloor weens die ekonomie wat verswak, brandstofpryse wat verhoog en alles wat so duur word. Om te wag op hoop is nie meer ’n behoefte by ons nie. Met alles wat so verander en onstabiel raak, laat dit ons vinnig twyfel of daar nog plek is vir hoop. Daarom het ons nie net ’n tydelike oplossing nodig om die hoop weer terug te plaas in ons lewe nie, ons het iets nodig wat permanent is.
Romeine 15: 13 verwoord dat God die bron van ons hoop moet wees. Dit beteken dat ons hoop uit God moet vloei, dat ons geloof ons so moet vervul dat dit die vreugde en vrede in ons lewe terugplaas, en dat ons hoop net sterker kan word deur die werking van die Heilige Gees. Vandag is ’n geleentheid om introspeksie te doen oor waar God in jou lewe is. Is Hy jou bron? Jou kern? Is daar nog iets wat jou vrede en vreugde laat ervaar? Hoe kan die Heilige Gees hierdie hoop in jou versterk? Hierdie introspeksie is nodig sodat jy anders kan kyk na die wêreld en jou omstandighede, sodat jy kan besef dat solank jy God in jou lewe het, jy altyd hoop sal hê. Met hierdie besef kan jy gereed wees vir God wat daagliks in en deur jou werk om sy hoop in jou te bewerkstellig.
Ds Chantelle Maree, Meyerton-Suid
