Psalm 103: 8-22
Augustusmaand waai die wind hier in ons wêreld. Dit is ’n stofwind en maak die lug baie keer rooibruin. Ou Israel het veral een tipe wind geken: die woestynwind of die seroko. Dit was ’n doodswind. Dit het letterlik alles verskroei en wanneer daardie woestynwind in Palestina gewaai het, het elkeen presies geweet wat dit beteken as mense sê: Vandag hier, môre weg.
En dit is die agtergrond van Psalm 103 se beeld van die veldblom. Palestina is hoofsaaklik ’n woestynland, maar in die dorre woestyn gebeur daar ’n wonder, een maal ’n jaar – ’n klein saadjie wat onverwags ’n bietjie vogtigheid van êrens kry en ontkiem. En die groen plantjie beur deur die dorre aarde, bars vars en nuut oop op die harde woestyngrond. Die stingel word ’n knoppie, die knoppie ’n blom, ’n heldergeel blom. Maar die heel eerste keer as die seroko behoorlik waai, is dit verby met daardie wonderblommetjie.
Die digter van Psalm 103 gebruik hierdie beeld as hy oor die kortstondigheid van die lewe nadink. Hy stel in wese enkele sake oor die lewe van die mens. Eerstens spring niemand die einde van die aardse lewe vry nie, die doodswind waai vroeër of later. Verder is niemand windbestand nie, en God keer ook nie noodwendig altyd die winde weg nie. Een saak staan egter vas: God is oneindig groter as die sterkste wind wat waai. Ons eindbestemming word nie bepaal deur die koers van die woestynwind nie, maar deur die wil en almag van God. Dit maak nie saak hoe die wind ons keer op keer van koers af dwing nie – God hou die eindpunt in sy hand.
Baie insiggewend is die woordkeuse wat die digter in vers 17 gebruik om die liefde van die Here te beskryf, veral teen die agtergrond van die strekking van die Psalm waarin tydelikheid en verganklikheid sterk teenwoordig is. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte… Geen doodswind of enige vernietigende krag kan standhou nie teen die ewige liefde van God wat aan sy kinders die ewige lewe gee.
Gebed
Here, dankie dat u liefde vir my selfs sterker is as my eie verganklikheid. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort