Klaagliedere 3: 31-33
Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.
Jeremia plaas sy ellende hier op die tafel. Hy beleef die ballingskap só erg dat dit vir hom voel asof hy persoonlik in God se toorn geplaas is. Dit is asof hy die donker ingejaag is en die Here hom op ’n pad laat loop waar daar geen lig is nie: Hy het my toegebou met ’n muur van gif en ontbering rondom my, skryf hy in Klaagliedere 3: 5. Dit voel vir hom asof sy gebede nêrens kom nie en asof God weier om sy gebede te verhoor. Dit is asof daar geen uitkomplek vir hom by God is nie. Nie net het die Here hom verlaat nie, maar Jeremia ervaar ook dat hy deur die volk uitgelag word. Dit maak die lewe vir hom galbitter.
Maar juis te midde van dié stryd, toe hy gedink het dit is klaar met hom, het hy besef: …deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie (vers 22). God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie. Dít is ons hoop – God se troue liefde bly standvastig, selfs wanneer ons ons in die diepste ellende bevind. Trouens, God se trou is só groot dat ’n mens op Hom kan bly hoop en voortdurend na sy wil kan bly vra. Daarom is dit goed om geduldig te wag op die hulp van die Here, selfs as ’n mens eensaam voel wanneer jy die las dra. Ons hoop is immers dat die Here ’n mens nie vir altyd verstoot nie.
Gebed
Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop. Here, ek bly hoop op U. Amen.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
