1 Petrus 1: 13-21

In die bundel Verhale van hoop deur Ingeborg Drewitz, het sy ’n gedig opgeneem met die titel Die kreet vann jongmens.    

Van die lewe verwag ek niks nie,

want die lewe verwag ook niks van my nie.

Wie sou tog kon verstaan

waarom ek so voel?

Ek lewe, en tog lewe ek nie… 

Dis verskriklik! In die plek van vreugde en hoop het daar sinisme gekom, bitterheid, moegheid. Dit gebeur nie net met jongmense nie. Die wanhoopsindroom kan enige mens pak wanneer jou gesondheid skielik ingee, vaste inkomste verdwyn, huwelike verbrokkel, jy bedreig voel in jou eie huis… Geen mens kan egter sonder hoop bly lewe nie. Hoop is lewe. Petrus, ook genoem die apostel van hoop, skryf juis oor hoop vir mense in ’n hopelose situasie. Maar hy skryf oor Christelike hoop (verse 13 en 21). Alles wat tussen hierdie twee verse staan, staan as’t ware tussen die hakies van hoop.

Veral twee perspektiewe is opvallend. Die eerste: Christelike hoop is buite ons geanker. Dis gegrond in wat God in Christus gedoen het, met as hoogtepunt die opstanding (vers 21). Die tweede: Hoop is ook in ons hande (verse 13-17). Hierdie verse teken ’n lewe waar daar hoop is. Omdat ons lewe tussen dit wat God reeds in Christus gedoen het en dit wat Hy in die toekoms nog in Hom sal doen, kan ons in die hede uit daardie hoop leef. Omdat ons geanker is tussen dit wat was en wat kom, nee, in Hom wat is en wat was en wat kom, kan ons elke dag met nuwe hoop lewe. Wie hoop, kyk met ander oë na gesondheid wat ingee, inkomste wat ontbreek, onveiligheid, na alles, terwyl hy of sy weet: God wat in Jesus verlossing gebring het, sal uiteindelik op sy eie tyd uit al die ellende hier op aarde finale verlossing bring. Met hierdie hoop kon die gelowiges vir wie Petrus geskryf het onder moeilike omstandighede oorleef, en net met hierdie hoop kan ook ons vandag leef en oorleef.

Dr Christo van der Merwe, Emeritus

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link