Handelinge 24: 24-27

Feliks se naam beteken “gelukkige”. Was sy lewe dalk tekenend van sy naam? Dit lyk so. Hy het verstommend opgang gemaak van slaaf tot goewerneur. Feliks se derde vrou was die pragtige Drusilla, ’n prinses wat hy met die hulp van ’n towenaar van die koning van Emesa afgeneem het.

Tog was daar ’n leemte in sy lewe wat veroorsaak dat hy vir Paulus laat haal sodat hy en sy vrou meer oor Christus kan hoor. Hy, ’n regter, was bereid om te luister na Paulus se getuienis. Hulle luister aanvanklik aandagtig, totdat Feliks begin bang word en vir Paulus laat gaan.

Wat hom bang gemaak het, was Paulus se woorde: geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel. Wat Feliks daarvan sou verstaan het, was dat daar ’n ander Regter is voor wie alle mense sal staan om verantwoording te doen; verder dat ’n mens nie self in beheer kan wees nie, maar beheer word deur Iemand anders. Feliks het nie kans gesien om verder te luister nie.

Die nuwe Direkte Vertaling sê hierdie woorde verwys na Johannes 16: 8 waar daar staan dat die Heilige Gees die wêreld sal oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Ou Vertaling). Om hiervoor bang te word, beteken die Gees was in Feliks aan die werk. Hier het Feliks die kans om werklik gelukkig te wees, want “geregtigheid” is nie ’n onmoontlike eis aan ’n mens nie. God sorg daarvoor deur sy Seun te gee en die oordeel weg te neem. Maar dit skrik Feliks af.

Helaas, Feliks het nie weer tyd vir so ’n gesprek geskep nie. Pleks daarvan, het Feliks hom gewend tot omkoopgeld en populariteit om hom gelukkig te maak. Pateties!  Hy was so naby aan ware geluk. Dit gebeur wanneer ’n mens nie goed genoeg luister na die evangelie nie. Dit is die moeite werd om nie weg te draai en uit te stel nie. Kyk, nou is die regte tyd… (2 Kor 6: 2).

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link