2 Petrus 3: 13
Die vraag op baie se lippe is: Wat hou die toekoms vir ons in?
Die tweede Petrusbrief is ’n pastorale brief waarin Petrus sy kommer verwoord oor die gemeente wat nie toekomsgerig is of gereed is vir die koms van die Here nie. Petrus herinner die gemeente dat niemand weet wanneer die Here se koms is nie, maar dat ’n mens steeds voorbereid moet wees daarop.
Die lesers van die teks was waarskynlik tweede- of derdegeslag Christene. Die vorige geslag Christene het geleef toe Jesus nog op aarde was en het geglo dat Christus in hul leeftyd sou terugkeer. Die mense het trouens ongeduldig begin raak. Petrus wou die mense bemoedig sodat hulle nie skepties moes raak oor die belofte van Christus se koms nie. Christene moes onthou dat die Here ’n eie tyd het. Daar was heel waarskynlik diegene wat swak in die geloof was, wat begin luister het na die spotters, wat gemeen het Christus is dood, en gaan nooit terugkeer nie.
Ek kan assosieer met die gemeente vir wie Petrus skryf. Ons daaglikse realiteite veroorsaak dat ons maklik fokus verloor en begin afdwaal van die regte pad. Om daagliks brood en melk op die tafel te sit, word soms ons hooffokus, en dan bly daar, as ons gelukkig is, ’n bietjie tyd vir jou gesin oor. Dit is dus nie moeilik om ongeduldig te raak met Christus wat nog nie teruggekom het nie. Ons het egter ’n God van genade wat in ons skoene kom loop het en met ons harte werk. God wil ons leer dat die ongeduldige maklik hoop verloor vir die toekoms, teenoor die geduldiges wat eerder groei in hul geloof. Ons moet hoop op die nuwe hemel en aarde waarin geregtigheid sal leef.
Petrus verwys in sy brief na die onderrig van Christus self, toe Hy die gelykenis vertel het van die vyf dwase en vyf verstandige meisies. Hiermee wil Petrus beklemtoon: Wees gereed, want daar is groot dinge wat kom. Hoop op God, sodat jy lewe sonder vrees vir die toekoms.
Ds Anel Boshoff, Beroepafwagtend
