Spreuke 9 en 3 (AFR2020)
In ons lewe word ons so baie keer voor keuses gestel. Spreuke is dié boek in die Bybel wat ons bewus maak van keuses – wyse keuses teenoor dwase keuses. In Spreuke 9 word die twee teenpole uitgebeeld met die metafoor van ’n vrou.
Vrou Wysheid (9: 1-6) het ’n huis met sewe pilare gebou, ’n feesmaal voorberei, en sy is invloedryk met diensmeisies wat sy uitstuur om haar gaste te roep. Vrou Dwaasheid word teenoor haar gestel (9: 13-18). Sy is ’n luidrugtige en onbesonne mens wat by haar deur sit en roep na almal wat verbygaan. Die oproep is dieselfde (9: 4 en 9: 16), maar hul boodskap verskil. Wysheid bied verversings aan, maar gee ook instruksies oor hoe om met insig te lewe (9: 6-12). Dwaasheid bied geen fisiese verversings aan nie, maar verwys wel na gesteelde water en brood wat in die geheim geëet word. Persone wat swig voor haar verleiding, ondervind teëspoed (9: 18), teenoor die beter uitweg van wysheid (9: 11-12). Die kern van die hoofstuk vind ons in die middel van wysheid se instruksies (9: 10). Die refrein van Spreuke: Wysheid begin by ontsag vir God.
Ons is nie in staat om uit ons eie vermoëns wyse besluite te neem nie. Spreuke 3: 5-6 maak dit duidelik: Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Vers 7 maak dit nog duideliker – ons moenie wys wees in ons eie oë nie. As ons wys is in ons eie oë, gee ons toe aan die eie-ek, die ego, wat God uitsluit. Nee, ons hoor weer die Spreuke-refrein in die res van die vers: Jy moet ontsag hê vir die Here. Alleen wanneer ons leef vanuit ons verhouding met God, put ons uit sy wysheid wat meer werd is as al die skatte in die wêreld (Spr 3: 13-15).
Wysheid is lewe (3: 16-18), God het selfs daarmee geskep (3: 19-20; Spr 8), en wanneer ons só in afhanklikheid voor God lewe, het ons geen bekommernis nie (3: 21-26). Hy is by ons, ons leef uit sy genade en Hy lei ons om wyse besluit te neem.
Psalm 125
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria
