2 Korintiërs 4: 1-6

Paulus word nie moedeloos nie en hou positief aan om te verkondig ten spyte van weerstand van teenstanders wat hom aanhoudend afkraak. Hy kan met ’n skoon gewete aanhou, want hy verkondig nie homself nie; hy is ’n dienskneg wat Christus verkondig. Hy kan die lig van Christus se heerlikheid wat in sy hart tuisgekom het, uitstraal. Hy kon gedink het aan die verstommende ervaring op die pad na Damaskus toe die verblindende lig hom neergevel en sy hele lewe van binnekant af verander het. Sy belewenis daarvan was soos ’n nuwe skepping. Dieselfde God wat aan die begin van alles lig gemaak het, het ook in sy lewe ingegryp! Soos God met die skepping die donker laat verdwyn het om lewe moontlik te maak, het daar in Paulus se lewe ook ’n wonder plaasgevind deur die geestelike lig wat die donker van vrees en sinloosheid weggeneem het.

Dit is sy grootste begeerte dat meer mense daardie wonderwerk in hul eie lewens kan ontdek. Deur die evangelie word dit moontlik dat die lig van die heerlikheid van Christus mense van binne af kan verander. Lewens kan dan ook na buite verander om al meer beeld van God te wees, soos wat ’n mens oorspronklik bedoel is, en al meer in Christus se voetspore te volg. Dit is wel moontlik dat daar ’n sluier kan wees wat ’n mens siende blind maak vir God se lig. Dit kan egter nie ’n hindernis wees om met geesdrif lig te laat skyn nie.

In hoe ’n mate kan jy getuig van daardie lig wat in jou hart tuisgekom het, die lig wat die donker van vrees en sinloosheid wegneem? Verander die glans daarvan jou so dat dit die lewe van ander wat met jou te doen het, beïnvloed? Het die evangelie die sluiers in jou lewe so weggeneem dat die beeld van Christus al meer in jou verskyn deur meer te kan vergewe en nederig te wees?

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link