Kolossense 3: 5-17

Dit is altyd maklik om die vinger ver weg van onsself af te wys – hulle, daardie mense, ander mense, die heidene. Paulus weet dit, en daarom begin hy ook daar ver met die sondes wat heidene doen. Van die lidmate is bekeerlinge uit die heidendom, en daarom word daar ook maklik na die ou dae en die verlede verwys. Die sonde waaraan die ander daar ver verslaaf is, is afgodery. Dinge soos onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid. Paulus noem dit sommer afgodery. So van ’n afstand bekyk, sal ons kan sê: Ja-nee, daardie dinge is verkeerd.

Ongesiens beweeg die skrywer van ver na naby. Ons het nou genoeg gesels oor die dinge wat die mense daar ver verkeerd doen. Nou moet ons die hand in eie boesem steek, ons moet in die spieël kyk en eerlik met onsself wees. Ons het maklik die sonde van die ander mense raakgesien, nou fokus ons op die dinge wat ons verkeerd doen. Die dinge waarvan ons moet afstand doen. Ons woede, haat, nyd, vuil taal en leuens. Wanneer ons dit hoor, klink dit nie na sonde wat so erg is soos dié van die ander ver mense nie. Tog kan hierdie dinge ook ons fokus van God wegruk. Paulus vra die gemeentelede in Kolosse om die woede, haat, nyd, vuil taal en leuens in hul eie lewe raak te sien en uit dankbaarheid vir Christus Jesus, daarmee te breek.

Paulus sinspeel op die inhoud en betekenis van die doop. Die ou lewe moet soos ’n vuil kledingstuk uitgetrek word, en ’n skoon kledingstuk moet aangetrek word. Nog een van die talle metafore van die Kolossense-brief. Ons word gelei om in die spieël te kyk na ons klere. Wanneer ons ’n vlek sien, moet ons in verbondenheid met Christus skoon klere aantrek.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link