Genesis 15: 1-8
Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het (Gen 15: 6). Abram se lewe getuig van oomblikke waarin hy worstelend en spartelend was. Worstelend om moeilike omstandighede te verstaan en spartelend om vastigheid te probeer kry wanneer bekommernisse hom wou oorrompel. Genesis 15 vorm ’n kernmoment binne die Abrahamverhaal – dit vertel van Abram se geloof wat vir hom ’n werklikheid, ’n realiteit in sy lewe geword het. Genesis 15 vertel van twyfel en moedeloosheid wat by Abram posgevat het. Hy was nie meer oortuig dat die belofte van ’n groot nageslag in vervulling sou gaan nie. Daarom verwyt hy die Here en sê hy dat hy altyd kinderloos sal bly, dat hy nooit ’n nageslag sal ontvang nie, en dat ’n slaaf sy erfgenaam sal word.
Die besondere betekenis van hierdie verhaal kom na vore wanneer ons lees dat die Here die twyfelende Abram helpend en bemoedigend tegemoetkom. Die lewende, almagtige God gryp in en bring die worstelende Abram tot geloof. Hy wys vir Abram die sterre as teken van hoe groot sy nageslag sal wees, en dan volg die belydenis: Abram het toe in die Here geglo…
Is geloof vir ons ’n werklikheid? Anders gestel: Het ons geloof betekenis binne die realiteit van ons alledaagse lewe? Word ons nog vasgevang deur die onbeskryflike genade en teenwoordigheid van God? Werk God nog skeppend in ons lewens? Ons word maklik oorval deur twyfel, onsekerheid, angstigheid oor die toekoms. Ons worstel en spartel om sin te maak van alles wat rondom ons gebeur. Ons staan verslae teen al die eise wat aan ons gestel word en ons raak moedeloos wanneer ons in ons verwagtings teleurgestel word. Die genade van God is juis bedoel vir mense wat só worstel en twyfel. In Jesus Christus het God vir ons ’n werklikheid geword. God bevestig deur die lyding en die dood van Jesus Christus hoe lief Hy die mensdom het, en Hy gee aan ons die belofte dat Hy ons nooit alleen sal laat nie. Dit gee ons geloofsmoed en geloofskrag om aan die Here gehoorsaam te bly en ons vertroue volhardend op Hom te plaas.
Gesang 502: 1-5
Ds Martin Meyer, Secunda
