1 Konings 3: 16-28

Salomo was beroemd oor sy wysheid. Die eerste toets vir sy wysheid was ’n geval van kinderdiefstal. Die feite van die saak was die volgende:

  • Albei vroue het gelyktydig babas verwag.
  • Die twee babas is drie dae uitmekaar gebore.
  • Die kinders was albei seuntjies.
  • Daar was geen getuies nie. Dit beteken dit is die een se woord teen die ander.
  • Een nag is die een vrou se baba dood aan versmoring toe die kind onder die ma beland het.

Die klaagster se klag het die volgende inhoud:

  • Die ander vrou het in die nag agtergekom haar baba is dood.
  • Sy kom vat toe die klaagster se lewende kind en lê haar dooie kind by die klaagster neer.
  • Toe die klaagster vroeg die môre opstaan om die kind te laat drink, sien sy hy is dood.
  • Toe dit lig word, sien sy dit is nie haar seuntjie nie en besef dat die ander vrou die kinders omgeruil het.

Die tweede vrou ontken die aanklag en dring aan dat die lewende seuntjie aan haar behoort. Dit word ’n oor-en-weer-stryery voor die koning om die lewende kind op te eis. Die koning oorweeg die saak. Hy besef dat daar nie genoeg feite of getuienis is om te bepaal wie van die twee vroue die waarheid praat nie. Op grond waarvan kan hy besluit wie die regte ma is?

Sy opdrag Sny die kind in twee stukke! is ’n toets vir egte moederliefde. Die ware ma sal eerder die kind prysgee as om hom te laat sterf. Tot vandag toe dien Salomo se uitspraak as ’n voorbeeld van die manier waarop God mense se harte toets om hul ware bedoelings aan die lig te bring. Leedvermaak, ’n houding van as ek hom nie kan kry nie, dan jy ook nie, is nie die antwoord van iemand wat iets verstaan van die liefde van God nie. Mag die Here in elkeen van ons se hart die ware liefde vind wanneer die lewe ons so toets.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link