Psalm 6

Psalm 6 is ’n klaagpsalm. Baie van ons ken die treurige lied Moet, Here, my nie straf nie; wys my nie toornig af nie. Genees my van die pyn, wat op hierdie Psalm gebaseer is. Die vroeë Christene het al hierdie lied gesing om hul ellende voor God te bely. Hulle het vasgehou aan God se liefde wat ruimte maak vir pyn-sonder-antwoorde en roep-ten-hemele. Vir klaagliedere, woede en vrae.

Die wonder van ’n klaagpsalm is dat dit altyd ’n dankpsalm word. Die psalmis staan nog en kla voor God en betreur sy verskriklike lot, maar hy sien reeds die hoop. Hy weet daar is uitkoms en genesing by God. Dit sou hartseer wees as ons altyd net vir die Here se straf op die uitkyk moes wees en nie die wonder van sy genesing kon raaksien nie. Ons kan inderdaad by die Here aanmeld vir gesondword.

Ons het almal drome en ideale wat baie maal net leë drome bly. Ons moet totsiens sê vir geliefdes en kosbare vriendskappe. Ons verloor ons werk en daarmee saam baie maal ons menswees en trots. Tyd stroop ons van ons kragte en ons moet saamleef met die wete dat ons nie kan staande bly teen die ouderdom nie. Verlies is ’n onbetwisbare deel van elkeen van ons se lewe.

Hoe reageer ons daarop? Ons hou vas aan God wat die groot Geneesheer is. Ons glo soos Augustinus, die kerkvader uit die vierde eeu na Christus. Hy het self seergekry en gesoek vir antwoorde. Sy antwoord was dat die lewe soos ’n skildery is: ’n Skildery wat net wit lig is, beeld nie die lewe uit nie. ’n Skildery het kontras en kleur nodig. Hy vir mense vertel: Kry die lewe lief, kry God lief wat die lewe is en weet dat Hy vir jou lief is. Dit is die beste teenvoeter vir pyn en swaarkry. God luister nie altyd soos ons sy luister wil hê nie, en Hy doen nie altyd soos ons wil nie, maar Hy luister en Hy doen. Hy is dáár.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link